Monday 27 May 2013

Moussaka




(4 porsies)
  • 900 g eiervrug (3 eiervrugte)
  • 120 ml olyfolie
  • 2 groot uie, gehalveer en in skywe gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 450 g beesmaalvleis/lamsmaalvleis
  • 1 ml fyn kaneel
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 50 g (pakkie) tamatiepasta
  • 45 ml fyngekapte pietersielie
  • 120 ml witwyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Witsous
  • 50 g botter
  • 50 g koekmeel
  • 600 ml melk
  • 1 ml fyn neut
  • sout en varsgemaalde
  • swartpeper
  • 50 g parmesaankaas/pecorinokaas, fyngerasper
Verhit jou oond tot 180 °C. Sny die eiervrug in dun skywe. Verhit van die olyfolie in ’n pan en braai die eiervrug weerskante tot sag. Dreineer op kombuispapier. Herhaal die proses tot al die eiervrugskywe gebraai is. Verhit nog van die olyfolie in ’n kastrol. Braai die uie, knoffel en maalvleis saam vir sowat 5 - 10 minute totdat die maalvleis los van mekaar en die uie sag is. Voeg die res van die bestanddele by en geur met sout en peper. Bring tot kookpunt en maak toe met deksel. Laat prut vir sowat 20 minute. Maak intussen die witsous. Smelt die botter in ’n kastrol en voeg dan die meel by. Roer die mengsel goed tot ’n gladde pasta. Voeg die melk bietjies vir bietjies by en meng goed om te verhinder dat klonte vorm. Geur met fyn neut, sout en varsgemaalde swartpeper. Kook die mengsel totdat die sous lekker verdik het. Pak nou om die beurt lae van die eiervrug en maalvleis in ’n groot oondbak van 20 x 15 cm. Gooi die witsous oor en sprinkel die gerasperde kaas bo-op. Plaas in ’n warm oond en bak vir sowat 45 minute.