Wednesday 29 May 2013

Kamma-bief-Wellington.




 Pleks van peperduur beesfilet en sampioenduxelles, maak ons ’n sakpas-weergawe met maalvleis en hoenderlewerpatee.

500 g beesmaalvleis (of ’n mengsel van 250 g bees- en 250g varkmaalvleis)
1 ui, gerasper
2 knoffelhuisies, fyngekap
5 ml sout
3 ml vars gemaalde swartpeper
60 ml mengsel vangekapte, vars tiemie en pietersielie
15 ml heelkorrelmosterd
2 eiers
1 x 400 g rol reg-om-te-gebruik skilferkorsdeeg
180 ml hoenderlewerpatee

Meng die maalvleis, ui, knoffel, sout, peper, kruie,mosterdeneenvandie eiersgoedsaam met jou hande en verkoel vir tien minute tot ferm. Voorverhit die oond tot 220 °C en voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit.

Rol die skilferkorsdeeg effens dunner uit op ’n meelbestrooide oppervlak en smeer die hoenderlewerpatee egalig oor die deeg, maar los ’n deegrant van 5 cm teen die kante. Vorm die maalvleismengsel in ’n lang rol en sit dit presies in die middel van die deeg neer.

Vou die deeg oor die maalvleis, draai die rol om (sodat die las onder is) en sit dit op die bakplaat. Druk die oop kante se deeg netjies onder die rol in. Gebruik enige afvalstukkies deeg om die bokant van die rol te versier. Klits die orige eier en verf die hele rol daarmee.

Bak vir 30 minute tot goudbruin, verlaag die oondtemperatuur tot 170 °C en bak vir nóg 20-30 minute tot deurgaar. Haal uit die oond, sny in skywe en sit voor met bykosse van jou keuse. Lewer 6-8 porsies.