Tuesday 28 May 2013

Appelkoos-en-rooibosblatjang





Johann Breedt en Mynhardt Joubert het hard duim vasgehou dat hierdie appelkoosblatjang, met ’n kombinasie van rooibostee en warm speserye. Die blatjang word met droë appelkosies gemaak, wat dit maklik maak om dit enige tyd van die jaar te maak.

1 kg droëappelkose, in stukkies gesny
6 rooibosteesakkies
6 brandrissies, gekap
30 g gemmer

5 g koljandersade
3 g selderysaad
3 g pimento-korrels
100 ml druiwe-asyn
1 L (4 k) druiwe-asyn
900 g suiker
sout en peper

1 Kook die appelkose saam met die teesakkies in genoeg water om die appelkose te bedek tot die appelkose sag is en ’n moes vorm.
2 Meng die brandrissies, gemmer, koljandersade, selderysaad en pimento met 100 ml asyn saam tot glad en voeg dit by die appelkoosmoes.
3 Bring die liter asyn en die suiker tot kookpunt terwyl geroer word en roer die appelkoosmoes by. Laat prut stadig oor lae hitte tot ’n gladde konsistensie verkry is. Geur na smaak met die sout en peper. Roer elke dan en wan om te verhoed dat dit aanbrand.
4 Bottel in gesteriliseerde bottels en bêre vir twee weke.

CARMEN SÊ
Appelkose spat verskriklik wanneer dit kook. Maak dus seker dat jou kastrol groot genoeg is, anders is die hele stoof later taai. Roer ook gereeld om te verhoed dat dit aanbrand. Gebruik slegs houtlepels, emalje- of vlekvryestaalkastrolle en erde- of glasbakke wanneer jy blatjang kook; yster of koper sal die blatjang ’n metaalsmaak gee.
Konfyt en blatjang is gereed wanneer dit in vlokkies van die lepel drup en nie meer loperig is nie. Skep ’n bietjie van die konfyt of blatjang op ’n piering en laat koud word. As dit dan vlokkig afdrup, is dit reg.
Giet warm in gesteriliseerde flesse en verseël onmiddellik.
Jy kan ’n brandewynpapiertjie bo-op plaas voor jy die deksel opdraai om te verhoed dat dit muf. Andersins kan jy selfs ’n bietjie kerswas bo-oor smelt om dit teen oksidasie te beskerm. ’n Metaaldeksel met ’n beskermende afwerking kan ook gebruik word.
Bêre blatjang in ’n koel droë donker plek.